Martin Luther
- aghvorster
- Oct 31, 2023
- 2 min read
Martin Luther (1483 - 1546) is gebore as die seun van 'n myner. Sy pa het hom opleiding laat ontvang in die hoop dat hy in die regte sal ingaan. Maar Martin het in teologie ingegaan. Hy het gestudeer by die Universiteit van Erfurt en later klas gegee by Wittenberg.
Luther het nie in die godsdienstige lewe die innerlike vrede gevind wat hy gesoek het nie. En soos hy die geskrifte van Augustinus en Paulus bestudeer het, het hy tot die gevolgtrekking gekom dat, as gevolg van die erfsonde, die mens se wil so korrup is dat hy nie instaat is om enige werke te doen wat goed is in die oe van God nie. Die mens kan gered word, nie deur enigiets wat hy doen nie, maar slegs deur geloof in God se nimmereindigende genade. Met ander woorde, hy het 'n leerstuk ontwikkel van "redding deur geloof alleen" in teestelling van die Katolieke leerstuk van redding deur genade, sakramente en goeie werke.
Luther het sy bevindinge (ook teen die vergrype van die kerk met aflaat en die verkryging van vondse) in 95 stellinge teen die kerkdeur in Wittenberg vasgespyker. Dit het ook die kerk as middellaar tussen die mens en God bevraagteken. "Die Christen' skryf Luther, "is alreeds deur God vergewe, en het nie 'n middellaar nodig nie"
Hy het waarskynlik nie op daardie stadium die bedoeling gehad om homself van die kerk af te skei nie. Maar soos sy stellings uit Latyn in Duits vertaal is en wyd gesirkuleer is, het hy hom bevind in die middel van 'n groeiende protes waarvan hy spoedig die leier was. In 1519, in debatte met prominente teoloe het hy begin om die status van beide die Pous en die kerkraad openlik te bevraagteken en gese dat uiteindelike godsdienstige gesag berus in die Skrif.
In 1520 het hy twee pamflette gesirkuleer, die een wat hom beroep op die Duitse prinse om die inisiatief te neem om die kerk skoon te maak van sy foute, en die ander wat meer eksplisiet sy standpunte uiteensit. Slegs twee van die tradisionele sakramente moet behou word. Wat die doop betref dat die brood en wyn nie verander in die bloed en liggaam van Christus nie, maar dat Christus werklik teenwoordig is met en in die elemente, soos vuur is in 'n warm yster.
In 1521 het Pous Leo X Luther ge-ekskommunikeer en hy is onder die ban geplaas. Luther is egter van die Pous en Keiser beskerm deur die Elektor van Saxe, Frederik die Wyse, en hy het dadelik begin om die Bybel in Duits te vertaal. So is die breuk tussen Luther en die kerk voltooid, en ten spyte van baie pogings deur ander om die breuk te herstel het dit net groter geword.
Binne die volgende paar jaar het sy teologie versprei soos 'n veldbrand deur noordelike en sentrale Duitsland. Dit het gespreek tot gelowige mense wat geskok is deur die wanpraktyke van die kerk, en tot die wereldse wat daarin die geleentheid gesien het kerkgrond en rykdom vir hulleself te verkry, tot patriotte wat die kerk wou nasionaliseer, en tot universiteitsprofessore en studente wat deur sy argumente beindruk is.
Bron: History of Western Civilization- Hayes, Baldwin, Cole.
Solank die kerk net bly reformeer. Deesdae lyk dit in sommige gevalle na deformasie.