Die Dertigjarige Oorlog.
- aghvorster
- Jul 4, 2023
- 2 min read
Die kerkhervorming het gelei tot 'n stryd tussen die Protestante en die Roomse Kerk.
In Duitsland het dit aanvanklik uitgeloop op die godsdiensvrede van Augsburg (1555) in terme waarvan Duitse vorste tussen die Protestante (Lutherse) of die Rooms Katolieke geloof kon kies. Die noorde van Duitsland was as uitvloeisel daarvan hoofsaaklik Protestants en die suide Rooms Katoliek.
Teen die einde van die 1500"s het daar in die Protestante state egter probleme ontstaan tussen die Lutherane en die Calviniste. Die Roomse state het die geleentheid uitgebuit om die Protestante uit te tart. In Boheme het hulle Protestantse kerke afgebrand en predikante verdryf.
Dit het tot onluste gelei in Praag en elders, met die uitvloeisel dat die Protestante Frederik V tot koning verkies het. Hierdie gebeurtenis staan bekend as die Defenestrasie van Praag (1618). Dit het gelei tot die uitbreek van die dertigjarige Oorlog.
Koning Frederik van Boheme word in 1620 deur die keiserlike bevelvoerder graaf Tilly verslaan en onttroon. Vooraanstaande Protestantse adel word gearresteer, tereggestel, en hulle grond gekonfiskeer. Vanuit die Noordelike state is die Protestante egter deur die koning van Denemarke gesteun.
Die Katolieke suide het in graaf Albrecht von Wallenstein 'n briljante aanvoerder gehad wat 'n uitstekende strateeg was. Hy het die Noord- Duitse en Deense magte verslaan. Die keiser het egter gevrees dat Wallenstein self sy oog op die Duitse troon mag he en hom ontslaan as bevelhebber.
In daardie tyd het die Noord-Duitse state ook 'n verdere bondgenoot gekry in die Sweedse koning Gustaaf II Adolf. Hy het die keiserlike leer verslaan by Breitenfield, en daarmee die keiser verplig om Wallenstein weer aan te stel as bevelvoerder.
Op 16 November 1632 vind 'n daglange bloedige geveg los tussen die twee leers. Die Sweedse koning seevier, maar sterf self in sy uur van triomf, waardeur Wallenstein die inisiatief herwin. Hyself word egter kort daarna deur een van sy luitenante vermoor.
In 1648 eindig die oorlog met die vrede van Wesfale.
Die gevolg was dat die state wat Rooms was, Rooms gebly het, maar dat die Protestante state nou erken is, en die bepalings van die vrede van Wesfale is ook na die Calviniste uitgebrei.
Die oorlog het ontsettende skade gemaak. Sowat twee derdes van die Duitse bevolking is uitgewis in hierdie oorlog, waaraan verskeie state deelgeneem het, maar wat feitlik uitsluitlik op Duitse grondgebied geveg is.
Bron: Die Verhaal van die Mensdom; Fry, Van Aswegen.
toets